Twee


Twee

Afrikaans poem by: Jolene Spangenberg
Theme: Love

Twee kilogram suiker
en twee kilogram tamaties
is die resep vir tamatiekonfyt sê jy,
terwyl jy draaie om my kombuis loop
en jou beste resepte vir jouself hou.
Ek kan nie kos maak nie,
maar ek weet minstens waar my stoof se knoppe sit
en hoeveel ure dit neem om die suur uit tamaties te kook.

Ek het die enigste resepteboek wat ek besit
van voor tot agter deurgeblaai,
maar nêrens is ‘n resep vir ‘n geurige vriendskap.
Dalk het mense, wat lief is vir kook,
nie tyd om vriendskappe ook aanmekaar te slaan,
of dalk is vriendskap nie net ‘n dis op die tafel nie,
maar die hele gedagte van saam eet.

Ek sou die wêreld in ‘n Pyrex bak vir jou kon voorsit
as jy my uitnodiging aanvaar het.
Ek sou twee dae daarna nog skottelgoed was
en spartel om die suur tamatiereuk uit my kombuis te kry,
net om jou aan my tafel te sien sit.

Vanaand is die stoele in my eetkamer
so leeg soos jou verskoning
en ek wens daar was ‘n nagereg soet genoeg
om my bitter hart mee te versadig.

Die wêreld is net so honger soos wat dit mal is, my Skat -
en liefde maak mens blind of los jou sonder aptyt,
maar wat maak ek met twee kilogram oorryp tamaties
as ek self nie hou van tamatiekonfyt?