The AVBOB Poetry Competition | Nor-mal-isasie


Nor-mal-isasie

Afrikaans poem by: Jolene Spangenberg
Theme: Hope

Hoeveel pizza slices het jy al saam met die verkeerde mense geëet
en hoeveel koffie-dates het jy al deurgesit
sonder om ‘n woord oor jouself te sê?
Jy het nie ‘n graad in argitektuur nodig om te bepaal
watter spasie ‘n persoon in jou lewe mag opneem nie.
Net omdat jy mense kans gee om die pad oor te steek
voordat jy verder ry,
beteken nie ander mag oor jou loop nie.

Lag!
Op ‘n random oomblik
van ‘n random dag
vir jouself en oor jouself, 
want lag is terapie
en dit kos nie seshonderd rand per uur nie.
Hoe meer smiles jy gee,
hoe meer sal jy besef jy verloor niks …
Skenk sommer jou klere van laasjaar
en groet die boemelaar op die hoek van Derde laan,
al het jy hom al besope gesien.

Hoe maller die wêreld word,
hoe meer moet jy kophou.
Sê jou sê al kos dit jou ‘n pion,
want more vat jy ‘n kasteel.
Vertrou jou instink eerder as ‘n ander se woord,
want as die Titanic unsinkable was
het ons waarskynlik nie vandag van sy bestaan geweet nie.

En asseblief tog –
Bly weg van daardie stoor waar al die bokse staan
waarin die wêreld jou wil druk!