Blog

Blog

Poësie word toenemend 'n finansieel lewensvatbare genre    
Thu, 14 November 2019



Inskrywings vir die AVBOB Poësiekompetisie sluit op 30 November
 
Die herlewing in die vraag na poësie is inspirerende nuus vir aspirant- sowel as gevestigde digters. Dit verhoog nie net hul kans om hul werk te laat publiseer nie, dit gee hulle ook die geleentheid om ʼn inkomste te genereer deur te doen waarvoor hulle lief is.
 
Volgens Johann de Lange, hoofredakteur van die AVBOB Poësiekompetisie, is daar globaal 'n oplewing in die gewildheid en publikasie van poësiebundels, by uitstek in lande soos die VSA en die VK.
 
“Boekverkope neem toe en meer boeke word elke jaar gepubliseer,” sê De Lange. “Daar is ook nogal ʼn toename in die gewildheid van internet-poësie, met baie webwerwe wat ordentlike betaling vir gepubliseerde gedigte bied, en gevestigde uitgewershuise wat dié digters publiseer. Digters is nie meer beperk tot die grense van hul lande nie, want hulle kan enige plek publiseer.”
 
SA ʼn weerspieëling van groei in poësie wêreldwyd
 
Suid-Afrikaanse skrywer Nini Bennett het onlangs ʼn betekenisvolle perspektief op Versindaba (www.versindaba.co.za) gedeel – ʼn kollektiewe webblog omtrent Afrikaanse poësie: dat ten spyte van Suid-Afrika se sukkelende ekonomie, dit nie ongewoon is vir digters om individuele vergoeding vir hul werk te ontvang nie, wat in lyn is met oorsese tendense. Bennett sê die Suid-Afrikaanse poësiegemeenskap is ʼn mikrokosmos van ʼn groter globale prentjie waarbinne die verkope van digbundels vanaf 2015 tot 2017 met 21% gestyg het. “Dit vestig poësie as een van die vinnigste groeiende genres in die uitgewersbedryf,” sê sy.
 
Bennett wys verder daarop dat die Suid-Afrikaanse uitgewersmaatskappy Naledi vanjaar reeds 13 digbundels uitgegee het, wat hulle vestig as die nommer-een poësie-uitgewer in ons land.
 
AVBOB Poësie groei hand oor hand
 
Die uitsonderlike groei in die AVBOB Poësie Kompetisie, wat in 2017 tot stand gekom het, is ʼn onweerlegbare bewys dat die digkuns in Suid-Afrika nie net oorleef nie, maar floreer. Tydens die eerste jaar het sowat 6 000 digters vir die kompetisie geregistreer en net meer as 20 000 gedigte is ingeskryf. Dié belowende syfers het gegroei tot bykans 11 400 digters en meer as 29 000 ingeskrewe gedigte in jaar twee.
 
Die huidige kompetisie, waarvoor inskrywings aan die einde van November vanjaar sluit, toon reeds ʼn verbetering op die vorige jaar se prestasie. Indien die huidige momentum volgehou word, word dubbelsyfergroei weer verwag. Alle inskrywings word aanlyn ingedien by www.avbobpoetry.co.za.

Een van die unieke kenmerke van die AVBOB Poësiekompetisie is dat dit oop is vir sprekers van al 11 ampstale, met die wenner in elke onderskeie taalgroep wat R10 000 kontant asook ʼn boekbewys ter waarde van R2 500 ontvang. Daarbenewens ontvang elke gedig wat op die AVBOB Poësiewebwerf gepubliseer word, R300 kontant. Tot op datum is 8 200 gedigte op die AVBOB Poësiewebwerf gepubliseer vir gebruik deur AVBOB se kliënte en gemeenskappe, vir digters regoor Suid-Afrika en vir al die agterblywendes in ons nasie.
 
De Lange sê daar is vanuit die staanspoor besluit om digters behoorlik te vergoed indien hul gedigte vir publikasie op die webwerf aanvaar word.
 
Hy skets die agtergrond: “Digters kom histories gesproke die slegste daarvan af wanneer dit kom by vergoeding vir hul skryfwerk. In baie gevalle, net om hul gedigte in tydskrifte of bloemlesings etc. gedruk te kry, word hulle glad nie of minimaal betaal. Dikwels word daar van hulle verwag om dit of dat te doen ‘vir die liefde van die saak’. Probeer daardie redenasie met ʼn fiksieskrywer en jy sal by die kroeg uit gelag word. Juis daarom was ons vasberade om die vergoedingsaspek heel eerste en ten goede aan te spreek. Ons het ook aangedring op ʼn beduidende kontantprys vir die beste gedig in die verskillende tale. Die groei wat ons jaar na jaar sien, asook die terugvoering wat ons van digters kry, wys hoe suksesvol hierdie projek is.”
 
Ten slotte wys Bennett op die belangrike rol wat tegnologiese vordering en die gebruik van multimedia-funksies in die herlewing van poësie speel. “Die nuwe internasionale gier is om gedigte te plaas op Instagram (die sogenaamde ‘Instapoets’). Plus, nie te lank gelede nie, was die internet in rep en roer met die werk van die Twitter-digters,” verduidelik sy. “Duisende lesers wêreldwyd wag daagliks vir hul dosis aanlynpoësie wat op ʼn selfoon gelees kan word. En danksy die deelbaarheid van webwerwe en mediaplatforms, is poësie deesdae ontwikkel in ʼnverbruikersvriendelike kommoditeit wat die lees en verspreiding van digters se werk binne sekondes bewerkstellig.”
 
Om in te skryf vir die jongste AVBOB Poësiekompetisie, besoek www.avbobpoetry.co.za. Die kompetisie sluit op 30 November 2019.



Share: